Anneke Hanekom
  • TUIS
  • BIOGRAFIE
  • NUUS
  • MUSIEK
    • Koop MP3's
    • Koop die CD
  • FOTO'S & VIDEO'S
  • OPTREDES
  • KONTAK

NUUS

Picture
Picture





Picture
Iets nuuts en vars in Afrikaans 
- Mariana Malan, Beeld  (11 Julie 2013)
Picture

Picture

Rooiwarm resensie
- Ronel Nel, Rooi Rose.
  (Sept 2013)

Picture

Picture
Vrouekeur resensie
- Christiaan J de Swardt.
   (1 November 2013)
Picture
Picture
(Junie 2014)
Picture

Picture





Tempo resensie
- Martelize Brink, RSG
   (25 Julie 2013)

Picture

Picture
Vrouekeur artikel
- Christiaan J de Swardt.
   (1 November 2014)
Picture
Picture

Picture




Kom nader, nooi Anneke Hanekom
- Marisca Harris
   (1 Augustus 2013)

Anneke Hanekom se debuut-CD laat jou dans op die bly geluide van ’n breakup-lied. 

“Vat, vat jou goed en trek, trek Ferreira. Jy verloor my by verre. Weer probeer se voet. Vat jou goed.” Hoewel haar album diep sake aanroer – loop uit my lewe; ek verlang na jou in my lewe; kom skop nes in my lewe – doen sy dit liggies en met ’n glimlag. 

Die musiek hef my gemoed op; die lirieke skep pragtige beelde wat my kalm hou in die verkeer. Daar’s die strand by Paternoster. Daar’s Magdeleen met blomme op haar kop. Daar’s iemand in ’n rooi rok wat dans en dans.

Anneke het die musiek vir elkeen van die 12 oorspronklike liedjies geskryf, en het saam met skrywer/joernalis Irma Venter gewerk op die lirieke vir 9 van die liedjies. Matthys Maree, regisseur van die Afri-reeks, het die verwerkings en musikale regie behartig. 

Anneke se passie vir musiek – en veral Afrikaanse musiek – blyk duidelik uit die feit dat sy hierdie album geskep het terwyl sy ’n voltydse loopbaan as kommunikasiebestuurder by ’n groot maatskappy gehandhaaf het. Maar dis niks nuuts vir haar nie – sy het bykans vir al haar studies betaal deur in kroeë en restaurante te sing gedurende haar universiteitsloopbaan. 

Dit was met haar gereelde optrede by Bourbon’s Street Jazz and Blues Bar in Potchefstroom, dat Anneke besef het musiek is iets wat sy in haar toekoms wil inbou. 

“Kom nader” is Anneke se eerste amptelike album. Maar – seker soos enige ander skeppende mens – lê daar ’n vorige probleerslag onder in haar kas. Dis duidelik uit “Kom nader” dat Anneke genoeg lesse geleer het uit haar musikale verlede om ’n CD te maak wat mense werklik sal geniet, en waarmee mense hulself werklik sal kan vereenselwig.

Die album is baie presies aanmekaar gesit. Elke lyn en refrein en elke noot is nagegaan. Ek glo Anneke sal mettertyd ook haar arms oplig, haar lyf losskiet, vergeet om te beplan en sommer spontaan heupswaai – nés die vrou in die snit Dans. En nes ek gedoen het toe ek die eerste keer na Ferreira Blues geluister het.

Doen jouself die guns om hierdie album aan te skaf. Selfs die kinders sal saamsing.

http://www.rapport.co.za/Opinie/Blogs/Kom-nader-nooi-Anneke-Hanekom-20130801


Picture








KlankKas resensie
- Rèney Warrington, Litnet.
   (21 Junie 2013)

Die girl kán sing; sy gebruik regte en interessante instrumente; skryf omtrent al haar eie musiek; en gebruik nie skoktaktiek om aandag te trek nie – sy is net haarself. In ’n see van Afrikaanse doef-doef backtracks, Afrikaanse “vertalings” van groot geeste en seuntjies wat deur hulle neuse skree, is Anneke Hanekom ’n vars briesie.

Die stem 
Sy kan dit wyd gooi, maar ook skielik terugtrek en in jou oor fluister – in die ateljee én op die verhoog. Wat meer wil jy hê?

Instrumente 
Hel, sy gebruik trekklavier, banjo, tjello, saksofoon enpapoose (’n soort klein kitaar).

Tipe klank 
Sy beskryf haar musiek as ’n tipe gypsy music of wêreldmusiek – iets wat herinner aan die klankbaan van die Franse film Amelie, en behalwe ’n paar ballades, stem ek saam. Sy gaan nou nie Van Coke Kartel of Die Skynmaagde se fans steel nie, maar as jy hou van ’n beautiful melodie, ’n sterk stem en regte musiek gespeel met regte instrumente, luister gerus na Kom Nader.

Pyn 
Gypsey-musiek het mos ’n element van dreigende tragedie, van hartverskeurende verlies. As jy dit in ’n klankbaan gebruik, verwag jy chaos. Ek sien die toneel: die dronk neef staan op by die troue en beledig die bruid. Oupa probeer keer, maar Ouma spreek ’n vloek uit en iemand haal ’n lang mes uit. En terwyl die alles gebeur, speel die musikante ongestoord voort. Hierdie tipe onvoorspelbaarheid, die dreigende drama, ontbreek egter vir my op die album, bloot oor alles te perfek is – die produksie, die note, die gebruik van instrumente – alles word streng beheer, presies beplan, en dit demp die energie wat hierdie girl duidelik oor beskik. Ek sien uit na die tweede album.

Slotsom
Gaan koop net die album. Jy sal nie spyt wees nie.

Soundcloud
https://soundcloud.com/annekehanekom/kom-nader

Te koop
iTunes, www.cdbaby.com of direk by annekehanekom@gmail.com


Picture





Grammofoon resensie
- Daantjie Dinamiet
  (7 Augustus 2013)

Daar is deesdae soveel Afrikaanse kunstenaars dat ‘n mens wonder of daar hoegenaamd enigiemand is wat met iets oorspronkliks vorendag kan kom. Anneke Hanekom sing al van kleins af, maar sy het nou eers haar debuutalbum, Kom nader, vrygestel. Die eerste snit vanaf dié album, Ferreira blues, is iets besonders. Die musikale verwerking is deur Mathys Maree gedoen, en die lirieke is lekker hardekwas. Die titelsnit is volgende, en dit is lekker om ‘n banjo op hierdie snit te hoor. Anneke het blykbaar vir Mathys die idee gegee van die klank wat sy wou gehad het, en soos sy self sê, het sy verwerkings haar verwagtinge oortref.  Dans is een van die hoogtepunte van die album, veral omdat die refrein se ritme van dié van die res van die liedjie verskil en die boodskap van die lirieke is dat ‘n mens soms net moet vergeet van jou probleme, veral as iemand jou in die steek gelaat het. In Pretoria-liefde sing van twee mense wat mekaar liefhet,maar een van hulle is in Kaapstad en een in Pretoria, en een van hulle sal ‘n skuif moet maak. Dit is iets waarmee baie mense hulle kan vereenselwig. Koningin van harte is nog een van die hoogtepunte van die album; die musikale verwerking op dié snit is besonder goed. Hierin sing sy van ‘n vrou wat alles in haar vermoë doen om ‘n man te verlei.

Rondloper is iets heeltemal anders; die mineur-tonaard van die musiek laat jou lekkerkry en die lirieke vertel die verhaal van ‘n losloper wat haar in die liefde vasloop.  Rooi rok is nog ‘n snit wat ‘n mens laat lekkerkry; as daar een snit met trefferpotensiaal is, is dit hierdie een.  Anneke het Liefste Magdeleen vir haar peetkind geskryf; sy het net nie haar regte naam gebruik nie omdat dié naam nie sou inpas nie. Die musikale verwerking van Alles of niks sal dalk bekend klink; dit herinner baie sterk aan dié van Gotye se groot treffer Somebody that I used to know.  Dit maak egter nie regtig saak nie; dit klink baie goed. In die lirieke sing sy van twee mense wat byna heeltemal van mekaar verskil, maar tog by mekaar pas.

Dit gebeur selde dat ‘n mens só ‘n goeie debuutalbum Afrikaans hoor. Diegene wat in niks anders as kommersiële musiek belangstel nie, moet maar na iets anders gaan luister, want hulle sal nie hier kry waarna hulle soek nie. Dis goed so, want hiedie album is iets heeltemal anders. Dit is gemik op diegene wat na musiek soek wat regtig iets om die lyf het. Jy sal nog hierna kan luister lank nadat jy die kommersiële snert wat op die radio gespeel word, vergeet het. Dit is sonder twyfel een van die heel beste Afrikaanse albums van die jaar!


Picture








Kom nader: ’n onderhoud oor die CD
- Rèney Warrington, Litnet.
   (21 Junie 2013)

Anneke Hanekom se debuutalbum, Kom Nader, is middel-Junie bekendgestel. Réney Warrington het die konsert gaan kyk, die CD gekoop en bietjie met Anneke gesels.

Wie is Anneke Hanekom?
Ek is ’n 39-jarige vrou. Ek is ’n Suid-Afrikaner wat bly is om hier te wees. Ek’s ’n kantoorwerker wat regtig hou van my werk en ’n liedjieskrywer wat mal is oor my stokperdjie. Soms is ek vir kort rukkies ’n bergfietsryer of ’n drawwer, maar nooit weer ’n gym-besoeker nie. Ek is ’n aartsoptimis wat glo dat die oorgrote meerderheid mense inherent goed is.

Seriously? Musiek is net ’n stokperdjie?
Jy’s reg. Maar vir my is musiek nie klein of minder belangrik nie. My hele hart is in hierdie album. Met “stokperdjie” bedoel ek net dat dit nie is hoe ek my brood verdien nie. Ek moet buite kantoorure vir musiek tyd maak. Dit beteken baie vroeg opstaan om musiektyd in te pas voor ek kantoor toe gaan. En na aandete gaan sit ek weer met die kitaar.

Hoekom sing jy in Afrikaans?
Afrikaans is ’n ryk taal met verskeie fasette. Dit is nie net ’n ligte-liedjie- of popmusiek-taal nie. Dis ook ’n passievolle en eksotiese storietaal. Afrikaans is verleidelik, speels en driftig alles gelyk. Die tipe musiek waarna ek graag luister, is skaars in Afrikaans, toe besluit ek om ’n album op te neem waarna ek self sou luister.

Beskryf jou musiek in een woord?
Verbeeldingstories.

Wat maak jou anders as ander Afrikaanse sangers/groepe?
Geen produk is 100% uniek nie. Daar’s altyd raakpunte met iets wat reeds bestaan. Maar daar is elemente van Kom nader wat anders is. Dit het ’n baie spesifieke gypsy-folk-klank wat nog min in Afrikaans gedoen is. Ek dink ook dit dra by tot uniekheid dat die musiek en woorde alles oorspronklik is – geen covers nie, geen vertalings nie.

Hoekom betree jy die musiekbedryf? Hoekom maak jy nie net musiek vir jouself nie?
Ek het ’n inherente drang om te skep. Die medium waarin ek werk, is die kombinasie van woorde en musiek. En dan, wanneer ’n mens klaar geskep het, wil mens tog graag hê mense moet dit hoor en geniet. Toe maak ek ’n CD.

Is jy reg vir die haters?
Ek’s oukei daarmee dat almal nie dieselfde smaak het nie. As mense nie van my musiek hou nie, hoef hulle mos nie daarna te luister nie. So nee, ek weet nie of ek reg is vir haters nie. Ek verwag dat mense wat nie van my musiek hou nie, net stilweg ander keuses sal maak. Ek sal moet voel hoe haters my laat voel en dit vat soos dit kom.

Stilweg ander keuses sal maak? O nee. Elke Jan Rap en sy maat gaan ’n opinie hê – die sogenaamde “bottom half of the internet”. Gaan jy reaksies/resensies lees? Daarop reageer, dalk?
Ek gaan definitief reaksies en resensies lees. Dit sal moeilik wees om afbrekende kritiek te kry, maar ek sal dit vat soos dit kom. Ek sal jou laat weet hoe dit voel! Maar elkeen mag ’n opinie hê. Trouens, ek verkies mense wat darem opinies het. En daar was al haters. Twee. Maar niks is die einde van die wêreld nie, behalwe die einde van die wêreld.

Beplan jy ’n toer?
Ek beplan om in September in Kaapstad te wees en Desember in George. En voor die einde van die jaar nog ’n optrede in Gauteng. As daar ’n ander dorp is waar iemand my graag wil sien optree, laat my asseblief weet, dan maak ek ’n plan.

Gaan jy by feeste optree in Kaapstad/George?
Ek hoop om so gou as moontlik by feeste in te kom. Vir nou mik ek na George en Kaapstad, omdat ek vriende en familie daar het.

Wat is jou day job?
Ek werk by Momentum as bestuurder van ’n span kommunikasiespesialiste. My werk behels alles van video’s en nuusbriewe tot konferensies en die fasilitering van strategiese sessies. Dis my werk om inligting op ’n kreatiewe maar betekenisvolle manier oor te dra.

Het dit jou gehelp om voor te berei vir die bemarking van jou eie produk?
Definitief. Ek verstaan die taal van ontwerpers en redakteurs en ek weet hoe om ’n projek aan te pak en vas te byt om dit uit te voer. Maar bemarking is vir my skielik moeiliker noudat die produk so persoonlik is. Ek leer baie soos ek aangaan.

Wat het jy geswot?
Ek het besigheidskommunikasie op Potch geswot. Ek het in my finale jaar gespesialiseer in joernalistiek en oudiovisuele kommunikasie.

Did you pay your dues, soos hulle in die musiekbedryf sê?
My eerste gig was by die Hatfield-vlooimark. Ek het letterlik R2 verdien vir die dag. Ek’t vir ’n groot gedeelte van my studies betaal deur my gigs in Bourbon’s Street Jazz & Blues Bar in Potchefstroom. Na universiteit het ek vir ’n jaar lank net gegig vir ’n lewe. Dit was meestal in pubs en restaurante in Pretoria – op ’n stadium sewe nagte ’n week met hier en daar ’n lunch gig tussenin. Finansieel was dit maar op en af. Toe kry ek ’n day job in die finansiële bedryf en hou aan met musiek na ure. Op ’n stadium het ek moeg geword daarvoor om kroeg covers te sing. Toe doen ek ’n paar propperse teateroptredes by Centurion Teater. En toe wil ek meer daarvan hê.

Wat doen jy op ’n Sondagmiddag?
Ek hou op met alles wat voel soos werk en spandeer tyd by die huis en doen net wat op daardie stadium vir my die heel lekkerste voel. Gewoonlik behels dit baie min.

Gunsteling Suid-Afrikaanse sanger?
Yoav. (Phew, hy’s net-net Suid-Afrikaans …) En as jy ’n Afrikaanse sanger soek: Karen Zoid.

Pretoria of Johannesburg?
Ek het lank in Joburg gebly en is mal oor die stad se definitiewe en interessante persoonlikheid. Maar ek het in Pretoria grootgeword en ek voel hier tuis. Dis ’n lekker stad om in te bly. Dis ook prakties naby aan my werk. Om in verkeer vas te sit is vir my ’n totale mors van kosbare tyd.

Vloek jy?
Nee wat. Dit help gewoonlik nie om mense te kry om jou punt in te sien nie. Behalwe wanneer ek alleen in my kar ry. Dan vloek ek soms lang stringe van baie woorde in verskillende verbuigings.

Gunsteling-wyn?
Hmmmm. Ataraxia Sauvignon Blanc. Met ys.

Wat irriteer jou?
Mense wat op hulle selfone tik terwyl hulle bestuur.

Wat laat jou glimlag?
Baie dinge. Filet met murgbene by Kream. Kleuters. Mense vir wie ek lief is. Gauteng se wolke. My verbeelding.

Nuutste blink kar of ou Volla?
’n Intreevlak nuwe kar kos soveel soos ’n goeie-kwaliteit CD-produksie. Die keuse is maklik! Ek ry baie lekker met my afbetaalde Toyota Yaris en beplan om hom nog lank te ry.

Koffie of tee?
Elke dag begin met varsgemaalde bone. 


Powered by Create your own unique website with customizable templates.